Markte op Maandeinde – 09/2020
September oorsig
Op 21 September het Suid-Afrika beweeg na ’n COVID waarskuwingsvlak 1. Vroeg in die maand is SA se amptelike BBP-syfers vir die tweede kwartaal van 2020 bekend gemaak, welke syfers dui op ’n skerp inkrimping van die plaaslike ekonomie met ’n gerapporteerde kwartaaldaling van net meer as 16%.
Na al die verlagings van die repokoers (wat al 300 basispunte beloop vir die jaar), het die Monetêre Beleidskomitee besluit om die koers in September onveranderd te hou. Dit laat die repokoers op 3,5% en die prima uitleenkoers op 7%. SA sakevertroue het ietwat herstel van die historiese laagtepunt. Meer bemoedigende nuus is dat die eerste arrestasies uitgevoer is met betrekking tot Suid-Afrika se talle korrupsieskandale.
Wêreldmarkte het in September teruggesak met onsekerheid oor verdere Amerikaanse fiskale stimulus en die komende Amerikaanse verkiesing. Tegnologie-aandele, wat vanjaar die gunsteling sektor van die mark is, het die algehele mark in September laat val. Die gewoonlik-betroubare tegnologiebelaaide Nasdaq het die maand met 5,2% gedaal. Die prestasie van die Nasdaq (31,6%) jaar tot datum is egter nog steeds heelwat beter as die S&P500 (5,6%).
Die Amerikaanse Federale Reserwebank het, soos verwag, koerse onveranderd gehou tydens die middel-September vergadering. Alhoewel dit steeds ver onder die vlakke van vóór die pandemie was, het die Amerikaanse verbruikersvertroue in September aansienlik herstel. Dit was die skerpste styging in 17 jaar. In September het die Amerikaanse werkloosheidsyfer tot 7,9% gedaal, teenoor 8,4% in Augustus. Die Amerikaanse ekonomie het nou net meer as die helfte van die 22 miljoen poste wat deur die koronavirus-pandemie uitgewis is, herstel.
Die eerste ronde presidensiële debatte tussen Joe Biden en die huidige president, Donald Trump, het ook in September plaasgevind. Dit het nie lank geduur voordat die debat chaoties geraak het nie, en beleggers is toenemend bekommerd gelaat oor die onsekerheid van die uitwerking wat die komende verkiesing op markte sal hê.
Vrywaring:
Die bogenoemde inligting is slegs vir inligtingsdoeleindes, en nie advies soos gedefinieerd in die Wet op Finansiële Advies- en Tussengangersdienste, 37 van 2002, nie. Alhoewel alle maatreëls geneem is in die voorbereiding van hierdie dokument, aanvaar RiG Adviesdienste (Pty) Ltd geen verantwoordelikheid vir enige optrede wat mag voortspruit uit hierdie dokument nie. Raadpleeg ons vir persoonlike advies gepas vir jou omstandighede. RiG Adviesdienste (Pty) Ltd is ‘n gemagtigde finansiëlediensteverskaffer (FSP nommer: 44730).
No Comments