Markte op Maandeinde – 08/2020

Monthly Market Update

Augustus oorsig

Suid-Afrika het op die 18de Augustus na vlak 2 van COVID-inperkings beweeg. As gevolg van die verdere opening van die ekonomie, het beide sakebedrywighede en nuwe verkoopbestellings in Augustus gestyg. Die Absa PMI indeks het ‘n sterk styging behaal nadat dit in Augustus 57,3 punte bereik het, teenoor 51,2 punte in Julie.

Terwyl die verslapping van beperkings beleggersentiment ietwat gehelp het, word dit grotendeels geneutraliseer deur ernstige dalings in die eiendoms- en finansiële sektore, waar beleggers laer winste verwag. Die plaaslike eiendomsmark is al ‘n geruime tyd struktureel swak. Daar sal altyd ‘n behoefte aan eiendom in die een of ander vorm bestaan, maar innovasie is beslis noodsaaklik vir dié sektor in ‘n post-COVID-wêreld.

Ten spyte van onstuimigheid gedurende die maand, het die wêreldmarkte Augustus op ‘n hoë noot afgesluit.  Positiewe nuus oor moontlike COVID-19-behandelings en entstowwe het nuwe hoop onder beleggers laat pos vat.

Op die 18de Augustus het die S&P500-indeks ‘n nuwe algehele hoogtepunt bereik. Die tegnologie-swaar Nasdaq het sy beste maandelikse prestasie in twee dekades gelewer, aangesien tegnologie aandele steeds beter gevaar het as gevolg van meer bestendige verdienste vooruitsigte. Dit is ondanks baie beleggers se kommer oor huidige hoë waardasies in die tegnologiese sektor.

Die afgelope jaar of wat het die meeste groot sentrale banke hul beleidsraamwerke hersien. Die Amerikaanse dollar het verswak met die aankondiging van die Federale Reserwebank se verkuiwing in beleid.

Die VSA het verdere handelsgesprekke met China gevoer. Dit blyk dat ‘n fase-een-handelsooreenkoms geleidelik vorder en voortgaan soos beplan.  Hierdie voortuitsig bevorder beleggersentiment.

Na die laagste punt ooit van 26,2 in April, het die JP Morgan Global PMI van 51 in Julie tot 52,4 in Augustus gestyg. Alhoewel dit sekere tekens toon dat ekonomiese herstel wel vorder, sal die wêreld se terugkeer uit die pandemie-geïnduseerde insinking, ongetwyfeld wankelrig – en in onsekerheid gehul wees.

Vrywaring:
Die bogenoemde inligting is slegs vir inligtingsdoeleindes, en nie advies soos gedefinieerd in die Wet op Finansiële Advies- en Tussengangersdienste, 37 van 2002, nie. Alhoewel alle maatreëls geneem is in die voorbereiding van hierdie dokument, aanvaar RiG Adviesdienste (Pty) Ltd geen verantwoordelikheid vir enige optrede wat mag voortspruit uit hierdie dokument nie. Raadpleeg ons vir persoonlike advies gepas vir jou omstandighede. RiG Adviesdienste (Pty) Ltd is ‘n gemagtigde finansiëlediensteverskaffer (FSP nommer: 44730).


No Comments

Comments are closed.