Markte op Maandeinde – 02/2022

Monthly Market Update

Februarie oorsig

Februarie was nog ’n gebeurtenisvolle maand vir beide plaaslike en globale markte. Suid-Afrikaanse bates het besonder goed gehou. Die Suid-Afrikaanse aandelemark was onder slegs ’n paar groot globale markte wat Februarie in positiewe gebied geëindig het.

Op die 10de Februarie het president Cyril Ramaphosa die staatsrede (SONA) gelewer. Die president het ook die verlenging van die R350 maandelikse Covid19 maatskaplike verligtingstoelae vir werklose volwassenes met nog ’n jaar aangekondig. Alhoewel dit broodnodige ondersteuning aan die armes bied, plaas die toelaag aansienlike druk op staats-finansies.

Enoch Godongwana, minister van finansies, het die begrotingsrede op die 23ste Februarie gelewer. Ekonomiese groei is afwaarts hersien van 4,8% in 2021, tot 2,1% in 2022 en gemiddeld 1,8% oor die daaropvolgende drie jaar. Die toespraak het ook ’n paar belastingverligtingsmaatreëls ingesluit, soos ’n effense verlaging in die korporatiewe inkomstebelastingkoers.

Wêreldwyd het die maand begin met ’n voortsetting van kommer oor verhoogde globale inflasievlakke, met Amerikaanse inflasiedruk wat die finansiële markopskrifte oorheers het. Die Amerikaanse inflasiesyfer vir Januarie, wat vroeg in Februarie vrygestel is, het op ’n jaargrondslag tot 7,5% gestyg, teenoor Desember se 7,0%.

Op die 24ste Februarie het Rusland sy inval in die Oekraïne geloods, wat die begin was van die grootste militêre konflik in Europa sedert die Tweede Wêreldoorlog. Die situasie het eskaleer weens hewige weerstand van die Oekraïense weermag en al hoe strenger Westerse sanksies. President Putin het sy kernwapens op hoë gereedheid geplaas. Die MSCI Rusland-indeks was teen maandeinde -53% laer en die Russiese geldeenheid het -26% gedaal.

Rusland se rol as die derde grootste olieprodusent wêreldwyd, het verhoogde kommer veroorsaak oor die impak wat die konflik op wêreldwye energievoorrade kan hê. Brent-ruolie het vir die maand met 11% gestyg, tot einde Februarie bo $100 per vat. Dit het veroorsaak dat die S&P 500-energiesektor +7% toegeneem het – die enigste sektor wat die maand in positiewe afgesluit het.

Vrywaring:
Die bogenoemde inligting is slegs vir inligtingsdoeleindes, en nie advies soos gedefinieerd in die Wet op Finansiële Advies- en Tussengangersdienste, 37 van 2002, nie. Alhoewel alle maatreëls geneem is in die voorbereiding van hierdie dokument, aanvaar RiG Adviesdienste (Pty) Ltd geen verantwoordelikheid vir enige optrede wat mag voortspruit uit hierdie dokument nie. Raadpleeg ons vir persoonlike advies gepas vir jou omstandighede. RiG Adviesdienste (Pty) Ltd is ‘n gemagtigde finansiëlediensteverskaffer (FSP nommer: 44730).


No Comments

Comments are closed.