Markte op Maandeinde – 05/2020

Monthly Market Update

Markte en ekonomiese aanwysers

markte-op-maandeinde-mei-20

Mei oorsig

Die SA petrolprys het in Mei met ’n verdere R1,74/lt gedaal na die laagste prys sedert September 2016 (R12,22/lt – Gauteng). Dit is die gevolg van dalende internasionale oliepryse wat deur ’n gebrek aan aanvraag en beperkte bergingskapasiteit vir hoë wêreldwye produksie aangedryf word.

S&P het SA se internasionale kredietgradering verder verlaag van BB na BB- (drie kerwe onder beleggingsgraad). Aangesien dié afgradering grootliks verwag was, is die vooruitsig van negatief na stabiel verander.

Die SARB het die repokoers in Mei weer met 50 bp tot 3,75% verlaag. Koerse is reeds die vorige twee maande met 100 bp elk gesny. Dié voortgesette aggressiewe koersverlagings het die Rand negatief beïnvloed. Markverwagtinge is dat daar voor die einde van die jaar ’n verdere verlaging van 25-50 bp sal plaasvind.

Die VSA het in Mei begin om inperkingsmaatreëls te verslap, ondanks die feit dat sommige state steeds toenames in infeksies toon. Werkloosheid het in April tot ’n rekordhoogte van 14,7% gespring en sal na verwagting in Mei verder styg.

Europese lande het hul ekonomieë gedurende die maand geleidelik heropen. Die EU het ’n plan onthul om €750 miljard vir die bevordering van ekonomiese herstel te leen. €500 miljard sal beskikbaar gestel word in die vorm van toelaes en €250 miljard as lenings. Europese aandelemarkte het positief reageer op die aankondinging van die stimuluspakket. ’n Deel van die pakket is beoog om ’n oorgang na ’n groener en meer digitale ekonomie te ondersteun.

Japanese BBP het in die eerste kwartaal gedaal met -0,9% (-3,4% jaar-op-jaar). Dit is die tweede agtereenvolgende kwartaal wat dié ekonomie gekrimp het.
Geo-politieke risiko het opnuut na die voorgrond getree. Die spanning tussen China en die VSA het toegeneem weens verskille oor die virus-uitbraak en China se plan om ’n streng nasionale veiligheidswet in Hong Kong in te stel.

Vrywaring:
Die bogenoemde inligting is slegs vir inligtingsdoeleindes, en nie advies soos gedefinieerd in die Wet op Finansiële Advies- en Tussengangersdienste, 37 van 2002, nie. Alhoewel alle maatreëls geneem is in die voorbereiding van hierdie dokument, aanvaar RiG Adviesdienste (Pty) Ltd geen verantwoordelikheid vir enige optrede wat mag voortspruit uit hierdie dokument nie. Raadpleeg ons vir persoonlike advies gepas vir jou omstandighede. RiG Adviesdienste (Pty) Ltd is ‘n gemagtigde finansiëlediensteverskaffer (FSP nommer: 44730).


No Comments

Comments are closed.