Markte op Maandeinde – 12/2020
Desember oorsig
Aan die begin van Desember het die minister van gesondheid, Dr. Zweli Mkhize, aangekondig dat Suid-Afrika amptelik ’n tweede vlaag Covid-19-infeksies ervaar. Suid-Afrika het die jaar afgesluit met meer as 1 miljoen koronavirus-infeksies en 30 000 sterftes.
Ondanks die instelling van strenger inperkingsreëls, het dit gelyk of plaaslike beleggers meer hoopvol is dat ons in 2021 ’n mate van terugkeer na normaliteit sal sien. Die wêreldwye optimisme het ook die plaaslike mark ondersteun en die beurs gehelp om positief te eindig vir die jaar.
SA se ekonomiese aktiwiteite het geleidelik begin herstel en die verbruikersvertroue-indeks het verbeter. Aan die ander kant het Absa se aankope-indeks (PMI) verder gedaal. Eskom het ook teen die einde van die maand vlak 2-beurtkrag geïmplementeer in ’n poging om kragvoorsiening te probeer verseker vir Januarie, wanneer ekonomiese aktiwiteite in die nuwe jaar hervat word.
Nadat ons een van die skerpste beermarkte in die moderne geskiedenis gesien het, het wêreldmarkte die buitengewone onstuimige jaar op ’n positiewe noot afgesluit. Finansiële markte wêreldwyd het in Desember steeds sterk opbrengste behaal. Dit is aangespoor deur die implimentering van verskeie Covid-19-entprogramme en baie lande se uiters akkommoderende monetêre en fiskale beleid.
Na vier jaar van onderhandelinge en verskeie gemiste sperdatums, het die Verenigde Koninkryk skrams voor Kersdag ’n historiese handels-ooreenkoms ten opsigte van Brexit met die Europese Unie beklink. Die afhandeling van die ooreenkoms het die beleggersentiment verbeter en die pond help versterk.
Beleggersentiment het ’n hupstoot gekry danksy die ooreenkoms van die Amerikaanse Kongres om ’n stimuluspakket van bykans $900 miljard goed te keur. Ondanks sterker groei en hoër besteding het die sentrale bank markte gerusgestel dat koerse op die huidige lae vlakke gehou sal word totdat die ekonomie herstel het.
’n Belangrike fokusarea in 2021 gaan wees hoe vinnig die wêreldbevolking ingeënt kan word om ekonomieë te help heropen en normaliseer.
Vrywaring:
Die bogenoemde inligting is slegs vir inligtingsdoeleindes, en nie advies soos gedefinieerd in die Wet op Finansiële Advies- en Tussengangersdienste, 37 van 2002, nie. Alhoewel alle maatreëls geneem is in die voorbereiding van hierdie dokument, aanvaar RiG Adviesdienste (Pty) Ltd geen verantwoordelikheid vir enige optrede wat mag voortspruit uit hierdie dokument nie. Raadpleeg ons vir persoonlike advies gepas vir jou omstandighede. RiG Adviesdienste (Pty) Ltd is ‘n gemagtigde finansiëlediensteverskaffer (FSP nommer: 44730).
No Comments