Markte op Maandeinde – 10/2020

Monthly Market Update

Oktober oorsig

Suid-Afrikaners het die eerste volle maand van die vlak 1-inperking in Oktober beleef, met byna alle bewegings- en ekonomiese beperkings opgehef. In reaksie op die vernietiging wat die nasionale inperking veroorsaak het, het president Cyril Ramaphosa op 15 Oktober SA se ekonomiese heropbou- en herstelplan aan die parlement voorgelê. Die vier strategiese ingrypings wat in die plan uiteengesit is, is infrastruktuurbelegging, energiesekerheid, stimulering van indiensneming en herindustrialisering.

Ná ’n ongewone vertraging van een week, om tyd te gee om die herstelplan te bespreek, het die Minister van Finansies, Tito Mboweni, sy lankverwagte begrotingsverklaring vir die mediumtermynbegroting gelewer. In ’n uiters uitdagende wêreldwye- en plaaslike ekonomiese omgewing, het Mboweni bevestig dat die ekonomie na verwagting in 2020 met 7,8% sal krimp.

Die Absa indeks vir aankopebestuurders (PMI) het tot ’n beduidende 60,9 indekspunt gestyg, teenoor ’n hersiene 58,5 in September. Die indiensnemings-indeks het ook vir die vyfde agtereenvolgende maand ’n verbetering getoon.

Wêreldwye markte was buitengewoon onstuimig in Oktober. ’n Oplewing in belegger optimisme is rondom die middel van die maand ervaar toe vordering met die onderhandelinge rondom ’n tweede fiskale stimuluspakket in die VSA opgemerk was. Onsekerheid rondom die uitslag van die Amerikaanse presidentsverkiesing wat vroeg in November plaasgevind het, het die markte geknou.

Kommer rondom Brexit het weer toegeneem toe die Europese Raadsvergadering van die 15de en 16de Oktober afgeloop het sonder dat ’n ooreenkoms gesluit is. Wat ekonomiese data betref was daar die positiewe nuus dat die Amerikaanse BBP in die derde kwartaal met 7.4% versterk het.

Met ’n ekonomie wat nou groter is as vóór die pandemie, word daar verwag dat China een van die enigste ekonomieë sal wees wat positiewe BBP-groei vir die jaar 2020 gaan behaal. Kommoditeite het ’n negatiewe opbrengs vir die maand behaal. Energie was die swakste presteerder met ru-olie wat skerp dalings aangeteken het.

Vrywaring:
Die bogenoemde inligting is slegs vir inligtingsdoeleindes, en nie advies soos gedefinieerd in die Wet op Finansiële Advies- en Tussengangersdienste, 37 van 2002, nie. Alhoewel alle maatreëls geneem is in die voorbereiding van hierdie dokument, aanvaar RiG Adviesdienste (Pty) Ltd geen verantwoordelikheid vir enige optrede wat mag voortspruit uit hierdie dokument nie. Raadpleeg ons vir persoonlike advies gepas vir jou omstandighede. RiG Adviesdienste (Pty) Ltd is ‘n gemagtigde finansiëlediensteverskaffer (FSP nommer: 44730).


No Comments

Comments are closed.