Markte op Maandeinde – 11/2021

Monthly Market Update

November oorsig

Suid-Afrika het ‘n bedrywige November afgeskop met sy sesde munisipale verkiesing. Die uitslae het baie verrassings opgelewer toe die ANC-stem tot ‘n rekordlaagtepunt gedaal het. Net 46% van die geregistreerde kiesers het gestem, en vir die eerste keer het steun vir die ANC tot onder 50% gedaal.

Enoch Godongwana, minister van finansies, het sy eerste mediumtermyn begroting voorgelê, wat beter vooruitsig vir die Februarie-begroting voorspel. Die land het in die middel van die maand nog ‘n tydperk van kragonderbrekings ervaar met byna vier dae van Fase twee-beurtkrag.

Die Reserwebank het tydens sy Monetêre Beleidskomiteevergadering op 18 November besluit om die repokoers met 0.25% tot 3.75% te verhoog vanaf sy rekordlaagtepunt, sy eerste repokoersverhoging in drie jaar.

Aan die einde van November het ‘n span Suid-Afrikaanse navorsers aangekondig dat hulle ‘n nuwe variant van Covid-19, nou genaamd Omicron, opgespoor het. Die verspreiding van die nuwe Covid-19-variant het markte in November ontwrig en namate infeksiekoerse toegeneem het, het beleggers bekommerd geraak dat ekonomiese aktiwiteit sal verlangsaam.

Die voorsitter van die Federale Oopmarkkomitee (FOMC), Jerome Powell, het vroeg in November aangekondig dat die Fed die grootte van sy effekte-aankope met USD 15 miljard per maand sal begin verminder. Energiepryse het in November aansienlik gedaal.

Die Turkse Lira het in November opslae gemaak toe dit byna 30% tot ‘n laagtepunt gedaal het nadat die Turkse president Erdogan gesê het hy is teen enige koersverhogings.  Dit het die Lira jaar-tot-datum 45% laat daal teenoor die Amerikaanse dollar. Turkye se inflasie is nou byna 20%, en die president het drie sentrale bankhoofde afgedank omdat hulle nie wou voldoen aan sy versoek om rentekoerse laag te hou nie.

Die Amerikaanse werkloosheidskoers het skerp gedaal tot 4,2% in November, af van 4,6% in Oktober en 6,3% aan die begin van die jaar. Kleinhandelverkope groei al vir etlike maande en nywerheidsaktiwiteite het vir November bly toeneem.

Vrywaring:
Die bogenoemde inligting is slegs vir inligtingsdoeleindes, en nie advies soos gedefinieerd in die Wet op Finansiële Advies- en Tussengangersdienste, 37 van 2002, nie. Alhoewel alle maatreëls geneem is in die voorbereiding van hierdie dokument, aanvaar RiG Adviesdienste (Pty) Ltd geen verantwoordelikheid vir enige optrede wat mag voortspruit uit hierdie dokument nie. Raadpleeg ons vir persoonlike advies gepas vir jou omstandighede. RiG Adviesdienste (Pty) Ltd is ‘n gemagtigde finansiëlediensteverskaffer (FSP nommer: 44730).


No Comments

Comments are closed.