Markte op Maandeinde – 10/2021

Monthly Market Update

Oktober oorsig

Suid-Afrika het in Oktober steeds ’n vermindering van Covid-19-infeksies en -sterftes ervaar namate die derde golf tot ’n einde gekom het. Eskom het in die laaste week van die maand op baie kort kennisgewing kragonderbrekings aangekondig. Dit, tesame met onsekerheid voor die munisipale verkiesing op 1 November, het op sake- en verbruikersvertroue geweeg.

Op die plaaslike front was Oktober ’n stil maand wat ekonomiese data betref.  Die inflasielesing verdien egter aandag, veral met die VPI-inflasiekoers wat bly styg. Inflasionêre druk begin opbou en die SARB het aangedui dat die volgehoue verhoging in inflasie ’n toekomstige rentekoersverhoging mag impliseer.

Wêreldwyd het inflasie, strenger monetêre beheer en voortgesette bottelnekke in die voorsienings-ketting tydens Oktober steeds op belegger-sentiment geweeg. Die inflasiedebat het in die kollig gebly, veral met die kommer dat inflasie nie kortstondig en verbygaande van aard sal wees nie. Beperkte aanbod het inflasie naby die hoë vlakke gehou wat vroeër vanjaar in die meeste groot ontwikkelde ekonomieë bereik is.

Ontluikende markte het ook die effek van hoër inflasie begin ervaar. In ontwikkelde markte het sentrale banke voortgegaan om die mark voor te berei vir strenger monetêre beheer.

’n Sterk afskop tot die derde kwartaal se korporatiewe verdienste-seisoen het beleggers verby inflasie- en voorsieningsketting-uitdagings laat kyk en was ook die maand ’n ondersteunende faktor vir aandeelpryse. Meer as die helfte van S&P 500-maatskappye het teen einde Oktober derde kwartaal-verdienstes gerapporteer met verdienstes wat tot 40% jaar-tot-jaar in totaal gestyg het – 10% bo verwagtinge. Amerikaanse BBP het op 2% kwartaal-tot-kwartaal vir die derde kwartaal ingekom, effens agter verwagtinge van 2.6%.

China se BBP-groeikoers het steeds verlangsaam en het vir die derde kwartaal met ’n skamele 0,2% kwartaal-tot-kwartaal gegroei.  Dit is ’n daling vanaf 1.2% in die tweede kwartaal en die swakste groei sedert die begin van die pandemie.

Vrywaring:
Die bogenoemde inligting is slegs vir inligtingsdoeleindes, en nie advies soos gedefinieerd in die Wet op Finansiële Advies- en Tussengangersdienste, 37 van 2002, nie. Alhoewel alle maatreëls geneem is in die voorbereiding van hierdie dokument, aanvaar RiG Adviesdienste (Pty) Ltd geen verantwoordelikheid vir enige optrede wat mag voortspruit uit hierdie dokument nie. Raadpleeg ons vir persoonlike advies gepas vir jou omstandighede. RiG Adviesdienste (Pty) Ltd is ‘n gemagtigde finansiëlediensteverskaffer (FSP nommer: 44730).


No Comments

Comments are closed.