Markte op Maandeinde – 07/2021
Julie oorsig
Julie 2021 was ’n moeilike maand vir Suid-Afrikaners, ’n maand wat beslis in die geskiedenis onthou sal word vir die sosiale onrus wat die land geteister het. Wat as protesoptredes begin het in reaksie op die gevangenisstraf van oud-president Jacob Zuma, het vinnig oorgegaan tot groot-skaalse plundering en vandalisme. Die onrus het meer as 300 sterftes tot gevolg gehad en het ’n ernstige impak op die voorsieningskettings en beleggers-vertroue gehad.
Suid-Afrikaners was ook die grootste deel van Julie onder die aangepaste vlak 4-covid-inperkings. Die inentingsprogram het steeds momentum gekry en teen einde Julie is 7,6 miljoen mense ingeënt.
Die Reserwebank se monetêrebeleidskomitee het die repokoers weereens onveranderd op 3,50% gehou, die prima koers bly dus ook op 7%.
Kommoditeitsmarkte het in Julie steeds sterk vertoon. Die styging in kommoditeitspryse vanjaar was uiters voordelig vir die SA fiskus en die ekonomie as geheel. Die uitvoer van edelmetale en minerale verteenwoordig nou 52% van totale SA uitvoere. Die handelsoorskot het in Junie toegeneem tot ’n nuwe rekordhoogtepunt van R57,6 miljard.
Die meeste wêreldmarkte het ’n positiewe Julie gehad, alhoewel markonbestendigheid teen die einde van die maand toegeneem het. Die belangrikste nuwe markontwikkeling wat die nuus in Julie oorheers het, was in China, waar regulasies voorgestel word om kommersiële wins in die aanlyn onderwyssektor te verbied. Beleggers bly versigtig ondanks Chinese reguleerders wat sê dat hierdie beleidsoptrede die sektor verbeter en ’n meer gelyke mededingende landskap skep.
Aangesien die meeste marksektore terugkeer na volle kapasiteit, insluitend toerisme, het die werkloosheidsyfer in die VSA steeds gedaal en in Julie 5,4% bereik. Die Amerikaanse BBP het in die tweede kwartaal met 6,5% versnel, nadat dit in die eerste kwartaal 6,3% behaal het. Na ’n afname van -0,3% in die eerste kwartaal van die jaar, het die eurosone BBP in die tweede kwartaal met 2,2% gegroei, wat die streek amptelik uit sy resessie gelig het.
Vrywaring:
Die bogenoemde inligting is slegs vir inligtingsdoeleindes, en nie advies soos gedefinieerd in die Wet op Finansiële Advies- en Tussengangersdienste, 37 van 2002, nie. Alhoewel alle maatreëls geneem is in die voorbereiding van hierdie dokument, aanvaar RiG Adviesdienste (Pty) Ltd geen verantwoordelikheid vir enige optrede wat mag voortspruit uit hierdie dokument nie. Raadpleeg ons vir persoonlike advies gepas vir jou omstandighede. RiG Adviesdienste (Pty) Ltd is ‘n gemagtigde finansiëlediensteverskaffer (FSP nommer: 44730).
No Comments