Markte op Maandeinde – 06/2021

Monthly Market Update

Junie oorsig

In Junie het die verwagte derde golf COVID-19-infeksies Suid-Afrika getref. As gevolg van die baie meer aansteeklike Delta-variant, het daaglikse nuwe gevalle teen ’n aansienlik vinniger tempo toegeneem. Teen die einde van die maand het die regering die land op aangepaste vlak 4-inperkings geplaas. Die toediening van entstowwe in SA bly teleurstellend stadig.

SA het voortgegaan om gunstige handelstoestande te rapporteer, met ’n handelsoorskot van R54,6 miljard in Mei, ondersteun deur ’n toename van 1,5% in uitvoere op ’n maandgrondslag. Dit was bo verwagting die dertiende agtereenvolgende maand van handels-oorskotte en die grootste oorskot wat nog ooit in die land se geskiedenis aangeteken is.

BBP-groei vir die eerste kwartaal was sterker as verwag. Die Suid-Afrikaanse ekonomie het in die eerste kwartaal van 2021 op ’n jaargrondslag met 4,6% gegroei teenoor die verwagtinge van 3,2%. Die erns van die derde Covid-19-golf verhoog egter die risiko dat die herstelmomentum in die SA ekonomie in die korter termyn kan afneem.

Wêreldwyd het inentingsveldtogte tydens Junie in die meeste ontwikkelde ekonomieë bly versnel. Dit was spesifiek waar vir Europa, wat die Verenigde Koninkryk en die VSA nou inhaal. Daar is egter kommer oor die verspreiding van die Delta-variant en hoe dit die volgehoue wêreldwye ekonomiese herstel sal beïnvloed.

Die Amerikaanse Federale Reserweraad se 2021-inflasievoorspellings het gestyg tot 3.4%, teenoor die Maart-projeksie van 2.4%. Die meeste markdeelnemers is onkant betrap deur die Fed se aanduiding dat daar waarskynlik teen einde 2023 twee koersverhogings kan wees. Hierdie nuus het die markte onrustig gemaak.

Verbruikersvertroue is ’n toonaangewende aanwyser wat toekomstige verbruikersbesteding kan voorspel, en die verbetering van die Junie-syfer is te danke aan die groeiende Amerikaanse arbeidsmarkoptimisme te midde van die heropening van die ekonomie. Dit verminder die besorgdheid oor inflasie ietwat. Finansiële markte word steeds ondersteun deur baie akkommoderende monetêre en fiskale beleid, en die verwagting is dat die wêreldwye ekonomiese groei teen sy vinnigste tempo in dekades sal voortgaan.

Vrywaring:
Die bogenoemde inligting is slegs vir inligtingsdoeleindes, en nie advies soos gedefinieerd in die Wet op Finansiële Advies- en Tussengangersdienste, 37 van 2002, nie. Alhoewel alle maatreëls geneem is in die voorbereiding van hierdie dokument, aanvaar RiG Adviesdienste (Pty) Ltd geen verantwoordelikheid vir enige optrede wat mag voortspruit uit hierdie dokument nie. Raadpleeg ons vir persoonlike advies gepas vir jou omstandighede. RiG Adviesdienste (Pty) Ltd is ‘n gemagtigde finansiëlediensteverskaffer (FSP nommer: 44730).


No Comments

Comments are closed.