Markte op Maandeinde – 05/2021
Mei oorsig
’n Styging van aangemelde COVID-19-gevalle het Suid-Afrika in Mei getref, wat gelei het tot ’n sterk toename in COVID-19-verwante hospitalisasie en sterftes. Namate nuwe gevalle aangemeld is, het vrese toenemend ontstaan dat die land nader aan die drempel van ’n derde golf van infeksies begin kom het. Fase twee van die land se inentingsprogram is teen ongeveer die middel van die maand van stapel gestuur en het begin met mense van 60 jaar en ouer.
In ’n eenparige besluit het die Reserwebank se monetêre beleidskomitee die repokoers vir die vyfde agtereenvolgende vergadering onveranderd op 3,5% gehou. Die BBP-groeiverwagting vir 2021 is opwaarts hersien tot 4,2%.
Minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, het goeie nuus aangekondig dat die beleërde Eskom daarin geslaag het om sy skuld met amper ’n vyfde te verminder. Die kragvoorsiener het in Mei weer ’n tekort aan opwekkingsvermoë ondervind wat op baie kort kennisgewing tot beurtkrag gelei het.
Na ’n bestendige begin van die jaar, was die opbrengste van wêreldmarkte in Mei meer gedemp. Die verbetering van ekonomiese data is in balans gebring met die styging in insetpryse en die moontlikheid van hoër inflasie in die toekoms. COVID-19 infeksiesyfers neem af in die meeste ontwikkelde ekonomieë. Meer as 50% van die Amerikaanse bevolking en meer as 39 miljoen mense in die Verenigde Koninkryk het teen einde Mei reeds minstens een inenting ontvang.
Die meeste ontwikkelde lande het ’n verbetering in die groeivoorspellings vir die jaar beleef. Daar word nou voorspel dat die VSA in 2021 met 6,9% sal groei. Voorspellings vir BBP-groei in die Verenigde Koninkryk het van 5,1% tot 7,2% toegeneem, die vinnigste groei sedert 1941. Die Europese Unie het ook ’n verbetering in groeivoorspellings gesien, met BBP groei van 4,2% wat nou verwag word.
Daar was ’n massiewe verkoop in krypto-geldeenhede tydens Mei. Bitcoin het gedurende die maand met 35% gedaal. Die uiterste wisselvalligheid in krypto-geldeenhede, kommer rondom wêreldwye inflasie, sowel as die swakker Amerikaanse dollar, het goudpryse laat styg.
Vrywaring:
Die bogenoemde inligting is slegs vir inligtingsdoeleindes, en nie advies soos gedefinieerd in die Wet op Finansiële Advies- en Tussengangersdienste, 37 van 2002, nie. Alhoewel alle maatreëls geneem is in die voorbereiding van hierdie dokument, aanvaar RiG Adviesdienste (Pty) Ltd geen verantwoordelikheid vir enige optrede wat mag voortspruit uit hierdie dokument nie. Raadpleeg ons vir persoonlike advies gepas vir jou omstandighede. RiG Adviesdienste (Pty) Ltd is ‘n gemagtigde finansiëlediensteverskaffer (FSP nommer: 44730).
No Comments