Markte op Maandeinde – 08/2021

Augustus oorsig
Suid-Afrika spandeer Augustus onder aangepaste vlak 3 Covid-inperkings en volgens gegewens van die Departement van Gesondheid, is daar teen einde Augustus 12,6 miljoen entstowwe toegedien. Aan die begin van die maand kondig president Cyril Ramaphosa sy langverwagte kabinetskommeling aan. Die grootste verrassing was Tito Mboweni, minister van finansies, se vervanging met die ANC se hoof van ekonomiese beleid, Enoch Godongwana.
SA se PMI vir vervaardiging het sterk herstel in Augustus en het van die rekordlaagtepunt van 43,5 indekspunte in Julie teruggekeer na 57,9 punte. Daarteenoor het die lewering van verskaffers gedurende Augustus gedaal, wat daarop dui dat die voorsieningsnetwerk steeds nie optimaal werk nie, deels weens die onrus in Julie.
Die hersiene raming van nominale BBP in 2020 is R5,5 triljoen, ’n toename van 11% in vergelyking met die vorige skatting van R4,9 triljoen. Ondanks hierdie positiewe nuus bly die indiensneming-situasie in Suid-Afrika steeds bedroef. Slegs 38% van die bevolking van werkende ouderdom is tans in diens en slegs 26% het ’n werk in die formele sektor, vergeleke met 29% vóór die pandemie. Hierdie gegewens bevat nog nie die negatiewe gevolge van die onluste en plundering wat in Julie plaasgevind het nie.
Wêreldwyd het onsekerheid in Augustus toegeneem weens kommer oor die meer aansteeklike COVID-19 Delta-variant en vrae oor die langdurige doeltreffendheid van entstowwe. Toenemende regulatoriese druk op tegnologie-aandele en die potensiële geopolitieke implikasies van die ineenstorting van die regering in Afghanistan wat veroorsaak is deur die onttrekking van die Amerikaanse weermag uit die land, het markte in Augustus geskud.
Ten spyte van die uitdagings het die meeste globale aandelemarkte Augustus op ’n positiewe noot geëindig. Die belangrike Amerikaanse aandele-indekse, soos die S&P500 en die Nasdaq, het historiese hoogtepunte bereik toe die Amerikaanse Federale Reserweraad aangedui het dat sy massiewe stimuleringsprogram vir die afsienbare toekoms nog in plek gaan bly.
In Augustus was daar ook ’n sterk daling in kommoditeitspryse. Die goudprys het onveranderd gebly, maar platinum (-6,3%) en palladium (-3,4%) het steeds bly daal van Julie se vlakke. Ystererts het met 13,9% gedaal en oliepryse het met 5% teruggesak.
Vrywaring:
Die bogenoemde inligting is slegs vir inligtingsdoeleindes, en nie advies soos gedefinieerd in die Wet op Finansiële Advies- en Tussengangersdienste, 37 van 2002, nie. Alhoewel alle maatreëls geneem is in die voorbereiding van hierdie dokument, aanvaar RiG Adviesdienste (Pty) Ltd geen verantwoordelikheid vir enige optrede wat mag voortspruit uit hierdie dokument nie. Raadpleeg ons vir persoonlike advies gepas vir jou omstandighede. RiG Adviesdienste (Pty) Ltd is ‘n gemagtigde finansiëlediensteverskaffer (FSP nommer: 44730).



No Comments