Markte op Maandeinde – 07/2020
Julie oorsig
Gedurende Julie het Suid-Afrika onder die top 10 Covid-19-brandpunte wêreldwyd getel. Die omstrede besluit van die regering om die verkoop van sigarette en alkohol te verbied, het ’n beduidende impak op belastinginvordering gehad. Suid-Afrikaners moes ook weer die ontwrigting van beurtkrag beleef.
Die Reserwebank het rentekoerse verder verlaag in ’n voortgesette poging om die pandemie se impak op die ekonomie te probeer versag. Die verlaging van 25 basispunte het die repokoers tot ’n algehele laagtepunt van 3,5% gebring. Aan die einde van die maand het die Internasionale Monetêre Fonds ingestem om R70 miljard aan Suid-Afrika te leen.
Wêreldwye aandelemarkte het in Julie nog ’n relatiewe sterk maand gehad, met minder wisselvalligheid as in die vorige maande. Toe die wêreldwye BBP-syfers vir die tweede kwartaal van 2020 bekend gemaak is, het die verwoestende impak van die koronavirus op die wêreldekonomie aan die lig gekom. Die VSA het ’n jaarlikse inkrimping van 32,9% gerapporteer – die ergste sedert die tweede wêreldoorlog. Die reële BBP in die Europese Unie het teen ’n nog vinniger tempo afgeneem, ’n jaarlikse afname van 39,8%. Kommoditeite het ’n baie sterk maand beleef, veral met die swak Amerikaanse dollar.
Na ’n tydperk van verstewiging het die Amerikaanse dollar in Julie skerp teruggesak. Die bewegende gemiddelde oor 50 dae van die Amerikaanse dollar-indeks het gedurende die maand onder die gemiddeld van 200 dae gedaal – die laagste vlak in meer as 2 jaar.
Geopolitieke spanning tussen die VSA en China het weer opgevlam toe die twee supermoondhede, veral oor handel en tegnologie slaags geraak het. Ekonomiese gegewens was andersins steeds bemoedigend en die VSA het in Julie 1,8 miljoen werkgeleenthede bygevoeg.
Alhoewel die diepgaande impak van die koronavirus-krisis op die wêreldekonomie stadig meer kwantifiseerbaar word, sal ons daarmee verlief moet neem dat daar steeds baie onsekerhede is waarmee ons sal moet saamleef totdat ’n blywende oplossing gevind word.
Vrywaring:
Die bogenoemde inligting is slegs vir inligtingsdoeleindes, en nie advies soos gedefinieerd in die Wet op Finansiële Advies- en Tussengangersdienste, 37 van 2002, nie. Alhoewel alle maatreëls geneem is in die voorbereiding van hierdie dokument, aanvaar RiG Adviesdienste (Pty) Ltd geen verantwoordelikheid vir enige optrede wat mag voortspruit uit hierdie dokument nie. Raadpleeg ons vir persoonlike advies gepas vir jou omstandighede. RiG Adviesdienste (Pty) Ltd is ‘n gemagtigde finansiëlediensteverskaffer (FSP nommer: 44730).
No Comments