Markte op Maandeinde – 03/2021

Monthly Market Update

Maart oorsig

Suid-Afrika se terugkeer na grendelvlak 1 vroeg in Maart was bemoedigend vir burgers wat deur die verskeie inperkings vuisfoos gelaat is. Die uiters stadige tempo van entstof-toediening laat die land egter steeds baie kwesbaar en beteken die risiko van ’n derde golf.

Die Reserwebank se monetêre beleidskomitee het tydens sy Maart-vergadering besluit om die repokoers op die rekordlaagtepunt van 3,5% onveranderd te hou. Die SARB was steeds versigtig wat groeivooruitsigte vir SA betref, en het sy voorspelling vir ekonomiese groei in 2021 net ietwat verhoog van 3,6% na 3,8%.

Die meeste opkomende mark geldeenhede het vanjaar onder druk gekom, maar die rand het die kwartaal as een van die beste presteerders in verhouding tot sy eweknieë afgesluit. Die gunstige wêreldwye makro-ekonomiese agtergrond behoort opkomende markte in die kwartale wat voorlê te bevoordeel. Ekonomiese groei sal na verwagting in 2021 herstel, al is dit van ’n lae basis.

Wêreldmarkte was in Maartmaand meestal onveranderd. Entstof-toediening in die groot ontwikkelde markte het, ondanks nuwe COVID-19-inperkings in baie dele van Europa en voortdurende vrese vir stygende inflasie, bly versnel.

Die Amerikaanse Fed-voorsitter, Jerome Powell, het tydens Maart by verskeie geleenthede kommer oor die tempo van langer-termyn VSA rentekoers-stygings weggepraat. Die Amerikaanse tien-jaar tesourie-opbrengskoers het in die eerste kwartaal aansienlik gestyg. Kommoditeitspryse het ook gedurende die periode skerp gestyg namate wêreldwye aanvraag herstel en toegeneem het. Amerikaanse indiensneming het in Maart versnel en die werkloosheidsyfer het van Februarie se 6,2% gedaal na 6,0%.

Die Internasionale Monetêre Fonds het die globale BBP-beramings vir hierdie jaar van 5,5% na 6% verhoog, en van 4,2% na 4,4% vir 2022. Hulle voorspel vanjaar groei van 5,1% vir ontwikkelde ekonomieë, terwyl daar verwag word dat opkomende ekonomieë met 5,7% sal groei. Wêreldwye ekonomiese gegewens wat in Maart bekend gemaak is, het grootliks na die bokant verbaas.

Vrywaring:
Die bogenoemde inligting is slegs vir inligtingsdoeleindes, en nie advies soos gedefinieerd in die Wet op Finansiële Advies- en Tussengangersdienste, 37 van 2002, nie. Alhoewel alle maatreëls geneem is in die voorbereiding van hierdie dokument, aanvaar RiG Adviesdienste (Pty) Ltd geen verantwoordelikheid vir enige optrede wat mag voortspruit uit hierdie dokument nie. Raadpleeg ons vir persoonlike advies gepas vir jou omstandighede. RiG Adviesdienste (Pty) Ltd is ‘n gemagtigde finansiëlediensteverskaffer (FSP nommer: 44730).


No Comments

Comments are closed.