Markte op Maandeinde – 01/2021
Januarie oorsig
Suid-Afrika het die nuwe jaar afgeskop met ’n volle maand van vlak 3-inperkings om die tweede golf van Covid-19-gevalle te probeer bestuur. Teen die einde van die maand het Suid-Afrikaners gretig gewag vir die eerste besending van 1 miljoen Covid-19-entstowwe wat in Februarie in die land sou aankom.
In sy eerste vergadering van die jaar, het die SARB se monetêrebeleidskomitee, die repokoers onveranderd gelaat op ’n rekord-lae 3,5%. Teen die einde van die maand het die Internasionale Monetêre Fonds Suid-Afrika se vooruitskatting vir ekonomiese groei in 2021 verlaag na net 2,8%. Dit is byna ’n persentasiepunt laer as die Reserwebank se opgedateerde voorspelling van 3,6% BBP-groei vir 2021.
Die toestande in die vervaardigingsektor het in Januarie effens verbeter. Sakebedrywighede het egter steeds onder druk gebly, en dit is verder geknou deur die sewe dae van beurtkrag in Januarie en die voortdurende pandemiese beperkings.
Wêreldmarkte het in Januarie op ’n positiewe noot begin en die bullopie van einde 2020 het voortgeduur. Beleggers se optimisme is verder ondersteun deur die verwagte fiskale stimulering met die inhuldiging van president Biden en die aanvanklike optimisme rondom die verskillende Covid-19-inentingsprogramme.
Die uitbreiding van strenger inperkings is in baie Europese lande geïmplementeer om die verspreiding van die virus te bekamp. Die Japannese regering het ook ’n noodtoestand in Tokyo en drie omliggende gebiede aangekondig.
Teen die einde van Januarie het die Verenigde State reeds 10% van sy bevolking ingeënt, terwyl die Europese Unie minder as 3% van die bevolking ingeënt het. In die aanloop tot Biden se inhuldiging het ’n groep Republikeinse ondersteuners die Amerikaanse politieke hoofkwartier, Capitol Hill, bestorm.
Januarie was ’n goeie maand vir opkomende market. Dit was hoofsaaklik te danke aan die Asiatiese lande, veral China. Opkomende markte en meer riskante bateklasse het voordeel getrek uit die hoë vlakke van likiditeit wêreldwyd, aangesien beleggers steeds in ’n baie lae rentekoersomgewing na hoër opbrengste soek.
Vrywaring:
Die bogenoemde inligting is slegs vir inligtingsdoeleindes, en nie advies soos gedefinieerd in die Wet op Finansiële Advies- en Tussengangersdienste, 37 van 2002, nie. Alhoewel alle maatreëls geneem is in die voorbereiding van hierdie dokument, aanvaar RiG Adviesdienste (Pty) Ltd geen verantwoordelikheid vir enige optrede wat mag voortspruit uit hierdie dokument nie. Raadpleeg ons vir persoonlike advies gepas vir jou omstandighede. RiG Adviesdienste (Pty) Ltd is ‘n gemagtigde finansiëlediensteverskaffer (FSP nommer: 44730).
No Comments